Wanneer ‘n vlinder vlerke kry

Charlotte Tredoux was vir almal in die buurt, Lottie. Lottie van langsaan. Lottie wat eintlik bitter graag Charlotte wou wees, maar toe staan sy en trou met Adam. Adam Niemand van die verkeerde kant van die spoor en sy word Lottie wat die fancy sigrets rook en altyd in die verte in kyk.

Die dag voor sy die pad gevat het, het sy weer so gesit en kyk, met die dun sigaretjie tussen haar rooi geverfde vingernaels.

“Haai Lottie, het jy gehoor?” Vet Lena het die oop voordeur binnegeskuur.

“Nee, Leen, wat moes ek hoor? Jy weet ek leen nie my ore uit nie.” Sy so half en half vir haarself geglimlag oor die slim woordspel.

“Ansie het vir Dik Faan gelos. Sy het besluit sy pak haar tassie en sy vat die pad. Niemand weet waarheen nie, maar die ouens wat weet sê sy en haar teenager lover het mekaar weer na al die jare op Facebook raakgeloop.”

Lena het veryby gehou kombuis toe waar sy haar twee liter Coke vir haar gesin weggesteek het. Vandat sy met diabetes gediagnoseer was, het haar gesin haar gesmeek om asseblief tog net die Coke te los.

Charlotte het die sigaret stadig na haar lippe toe gebring. Dat Ansie nou wragtig die moed gehad het om dit te doen! Sy het gewonder wanneer sy sou loop. Sy het altyd gedreig, maar niemand het ooit gedink sy sou nie.

“Wys jou nou net, wanneer jy aanhoudend oor ’n ding praat jy later die moed om dit te doen,” het sy meer vir haarself as vir Lena gesê.

“Hmmm, wat het jy gesê?” Lena het saggies ’n wind opgebreek toe sy die glas Coke klaar gedrink het.

“Slaat my dood,” sy gemaak geskok gesê.

Dik Faan was nie altyd ’n maklike man gewees nie, maar hy het haar nie geslaan nie, en hy het net soms op haar geskreeu. Hy het na ’n dood goeie man gelyk, alhoewel Ansie gereeld gespot het dat hy dood goed en goed dood was. Wat sou maak dat ’n vrou sommer so haar man van vyf en twintig jaar los?

“Mind you, die kinders is almal uit die huis, en dit was net hulle twee. Ek weet darem nie. Mens draai nie net jou rug op ’n kwart eeu saam nie. Vat nou maar vir my Servaas. Ons weet al wat die ander een dink nog voor ons dit dink. Mens is mos nou nie lus om ’n ander man se geite te leer ken so van nuut af nie. Hel, ek weet darem wat ek het, maar sy weet nie wat sy kry nie.’ Lena het die bottel nader getrek en tweede glas gegooi.

‘Hê Lottie, wat sê jy?’

‘Ek haat dit dat jy my Lottie noem, jou vet koei,’ wou Charlotte sis, maar sy het bloot die sigaret dieper gesuig en toegelaat dat die rook stadig deur haar longe trek en met die uitasem het sy gevoel hoe sy die spanning uitblaas.

Sy het vorentoe in haar stoel gesit en haar sigaret met presisie doodgedruk. Asof sy ’n ekstra punt aan die einde van haar sin wou sit. Asof sy wou sê dat die laaste kool vuur finaal dood was.

“Ek dink dat Ansie deksels dapper is. Ek dink dat as ek die kans sou kry ek dieselfde as sy sou doen. Ek dink…” Sy het lank in Lena se dof grys oë gekyk. Lena en die glas Coke het in die oomblik gevries. Sy kon nie besluit of sy wou lag van die spanning wat skielik in die lug was en of sy liewer wou opstaan en huis toe gaan nie. Maar sy kon nie, wat sy het op daardie oomblik besef dat sy ooggetuie was van iets… sy kon net nie so lekker verstaan wat presies gebeur het nie.

Want, in ’n oogwink, het Lottie van langsaan, Charlotte geword.

“Soos ’n butterfly wat uit sy kokon uitkryp,” sou Lena dit jare later nog vir mense verduidelik as hulle vra of sy weet wat van Adam Niemand se Lottie geword het.

“Sy het opgestaan nadat sy daardie sigaret doodgedruk het, sy het haar selfoon gevat en ’n nommer gedruk. ‘Adam,’ het sy yskoud gesê, ‘Adam ek gaan nie vanmiddag by die huis wees wanneer jy hier kom nie. Ek is gatvol om ’n Niemand te wees. Ek is moeg daarvan dat jy nie ’n man kan wees nie. Jy is’n manteldraaier wat nooit ’n opinie van sy eie het nie. Dit krap my gat wanneer mense opmerkings en aanmerkings maak en jy beaam bloot wat hulle sê. Dit grief my tot in die diepste van my menswees dat jy nie kan opstaan en vasstaan en kan punt inneem nie, maar altyd die uitweg van minste teenstand kies. Ek is siek en sat en moeg daarvan om eintlik, eintlik met ’n swakkeling getroud te wees. Moenie my kom soek nie.’ En toe staan sy op, sy vat haar handsak, en sy sê vir my, ‘Ek is nie Lottie Niemand nie. Ek is Charlotte Tredoux. En jy Lena, behoort jou te skaam omdat jy jou gesin so bedrieg!’ En toe loop sy by die deur uit.”

“Ek het nooit eens geweet dat sy sulke groot woorde ken nie. Party mense sê sy is landuit met ’n miljoenêr. Ander sê sy is terug na haar ouers en hulle het betaal dat kon gaan swot. Niemand weet regtig nie.”

Lena glimlag dan gewoonlik, “Ansie se lover was toe nooit so watwonders nie, en sy het Dik Faan het dinge opgepatch. Maar daardie ding wat Lottie, ag skies tog, Charlotte vir my gesê het, het my hard geruk. Daai ding dat ek my moet skaam. Ek het…. my geskaam jy weet. Ek het daardie dag ophou Coke drink. En kyk nou na my. Ek dra ’n size twelve! Partykeer het jy net iemand nodig om jou kaalkop die waarheid te vertel.”

Sy het vir ’n oomblik stilgebly, sy het al geleer dat ’n goeie storieverteller altyd weet wanneer om die spanning ietwat uit te rek, “Ja-nee, net jammer Adam het nie verander nie. Hy het haar wragtig nooit gaan soek nie. Hel, dit moet darem moeilik wees vir ’n vrou, dat jou eie man jou nie gaan soek nie, al het jy gesê hy moet nie. Dan was sy eintlik maar ’n niemand…”

Comments

comments

Leave a Reply