Kla met die witbrood onder die arm

Kla met die witbrood onder die arm

“Nou weet ek hoekom mans hulle ouer vrouens intrade vir nuwe jonger goedjies,” Hanna vat ’n sluk koffie en sak nog bietjie weg in haar rusbank, “want die jong dingetjie weet nie waarvoor sy haar inlaat nie! Sy is nog te onnosel om agter te kom dat sy vir haar ’n kat in die sak op die hals haal, en nie die hings wat sy dink nie!”

“Ja?” Elize weet sommer dat hier ’n storie kom.

“Kyk nou maar vir my en Frans. Vandag kom die man by die huis, so krom soos ’n vraagteken en die pyn staan sommer so wit om sy kiewe geskryf. Hy sukkel-sukkel die huis in, kan skaars sy bene buig soos sy rug pyn.  Op laas het ek hom in die kar na die chiro toe en daarna om te gaan plate neem. Toe ons later terugkom moet ek hom insmeer, terwyl ek die kinders se skoolwerk moet nasien, en die kos aan die gang moet kry. En ek doen dit, want ek is lief vir die man, maar ek is wraggies ook nie meer toeka se kind nie, en ek wens sy pyn kom vinnig tot ’n einde.  Nie oor ek nie kan verdra om die man in pyn te sien nie, maar oor ek dinge het om te doen, mens.”  Hanna vat nog ’n slukkie.

“Mans van hier om en by vyf-en-veertig, begin jong bokkies uit te soek, want hulle weet dat hulle ou vrouens nie meer krag het om hulle op te piep nie. En elke man wil tog so bietjie gemoeder word, dan nie?”

“Hanna…. Hanna… kom help bietjie dat ek op my sy kan draai, ‘seblief vrou.” Frans steun-kreun uit die slaapkamer uit.

Hanna rol haar oë en sug.  Sy plaas die koffie op die tafeltjie en stut haar groot lyf met die opstaan.   Sy slof die gang af tot in die kamer, waar Elize kan hoor hoe sy saggies oor Frans kloek.  Sy het al lankal agtergekom dat Hanna baie keer sommer ’n drama queen is.

“Kan ek vir jou ’n koffietjie bring, my dier?” vra sy stroop soet.

“Asseblief, mamma’tjie,” kreun die haar man.

Elize kon nooit verstaan hoekom man en vrou mekaar ‘mamma’ en ‘pappa’ noem nie. Sy sê altyd vir Nico, “Dinge wat ek met jou doen sal ek mos wragtig nie met my pa aanvang nie!”  Maar nou ja, different strokes for different folks.

“Ja-nee, kyk, wat mens nie alles vir die spesie sal doen nie” slof Hanna terug. Sy sit ’n wit koffiebeker op die kas neer, gooi die Ricoffy en water in, een teelepel suiker, “want hy sukkel so met sy suiker,” en bietjie melk, dan proe-proe sy of alles reg is, en slof weer terug na die kamer.

“Kom, kom my man, dan help ek jou op, sodat jy jou koffietjie kan drink.” Beide steun en kreun ewe hard.

Die alewige gebruik van verkleinwoorde is vir Elize knaend ’n doring in die vlees.

Hanna is skoon uitasem wanneer sy weer in die rusbank neersak, “Nee, hêrre, ek is te oud en te vet vir hierdie stories. Weet jy wat, Elize?”

“Nee, Hanna, wat?”

“Ek kyk vanoggend ’n ding van Joost, jy weet die rugbyspeler?”

“Ja, ek weet van hom.”

“Jy weet wat sê hy? Hy sê daar is twee dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.  Tyd en ons gesondheid. En wanneer ons een van die twee verloor, dan eers word ons wakker. Hy is reg, jy weet. Daar is my Klein Piet nou al ’n jaar dood, en nou die ding met Frans en sy rug. Ek kan nooit weer die tyd met my kind terug kry nie, en Frans…” maar sy kry nie kans om haar sin klaar te maak nie.

“Hannaaaa, my dier?”

“Ja, pappie?” Sy draai haar kop skuins om te hoor of dit ’n kom-hierheen-roep is, en of dit ’n instruksie is wat sy sommer so van die afstand kan doen.

“My ding, ek is lief vir jou.”

Sy glimlag, “Eintlik… eintlik kla ek met die witbrood onder die arm, ne?”

Comments

comments

Leave a Reply