‘Jy skryf tog so mooi,’ skryf baie mense vir my.

Ek wil dan so graag vir hulle terugskryf, ‘Ag dankie, jy self skryf sulke mooi dinge.’

Wat ek nie sê nie, is dat skryf my manier van asem haal is. My manier is van sin maak in ‘n wêreld waar ek baie maal meer vrae as anwoorde het. Skryf is my manier van ontlaai, en baklei, en huil, en skreeu, en bid en bekeer. Skryf is die gawe wat Hy vir my gegee het.

Skryf is deel van die kind wat ek was, in ‘n mynhuis in 36 Drongo Straat, Flamingo Park in Welkom.  Ek het in die hokkie gesit wat die venster gemaak het en liedjies, gediggies en stories geskryf.  Later het my ma haar ou tikmasjien vir my gegee waarop ek tot laatnagte getokkel het, toe ek twaalf jaar oud was. Op universiteit het ek gedigte in my regshandboeke geskryf. En later, in my jong getroude lewe het ek kwaai briewe vir my arme man geskryf.